Foto: R. Amesz

woensdag 10 april 2013

GROOT STEMME BY SPIER TYDENS DIGTERSFEES


PERSVERKLARING: GROOT STEMME BY SPIER TYDENS DIGTERSFEES

Dansende Digtersfees Programaankondiging.
Digterstemme vanoor die wêreld – waaronder dié van ‘n Nobelprys voorloper, politieke andersdenkendes, aktiviste en bekroonde literêre figure – gaan die Herehuis en Ou Wynkelder by Spier vul op Vrydag 10 en Saterdag 11 Mei. Die geleentheid is die Dansende Digtersfees, ‘n internasionale fees van digters en digkuns, wat oor twee dae by die wynplaas aangebied word. Die feesprogram is pas op die fees webwerf bekendgemaak, www.dansendedigters.co.za
Deelnemers sluit in Ko Un (Suid Korea), David Shulman (Israel), Hans van de Waarsenburg (Holland), Carolyn Forché (VSA), Tomaz Salamun (Sloewenië), Joachim Sartorius (Duitsland), Yang Lian (China), André NaffisSahely (Italië/Iran), Dele Olojede en Kole Omotoso (Nigerie), en Nicholas Dawes, Antjie Krog, Petra Müller, Antony Osler, Gunther Pakendorf en Marlene van Niekerk van SuidAfrika. Die fees is onder kuratorskap van Breyten Breytenbach. 
Die Dansende Digtersfees is die manifestasie van ‘n vennootskap tussen Spier en die Pirogue Kollektief, waarvan Breytenbach ‘n stigterslid is.
Voorlesings
Die hoofgebeure is Voorlesings van hul eie werk deur deelnemende digters. Dit word oor twee aande aangebied, met Voorlesing I op Vrydagaand vanaf 6.30nm en Voorlesing II op Saterdagaand vanaf 6.30nm. Die Voorlesings word gechoreografeer deur teaterregisseur Marthinus Basson, met musikale regie deur komponis en musikant, Neo Muyanga.
Die volgende digters sal deelneem, op een van die twee aande: Breytenbach, Forché, Ko, Krog, Müller, Salamun, Sartorius, Shulman, Van de Waarsenburg, Van Niekerk en Yang.
Kaartjies
Kaartjies is R150 per persoon per aand, wat wyn en peuselhappies insluit. ‘n Kombinasie kaartjie, vir beide aande, is R300 maar beskikbaar teen 10% afslag (R270) vir besprekings teen Vrydag 12 April. Bespreek by Spier, 021 809 1100, gedurende kantoorure, Maandag tot Vrydag, of stuur ‘n epos aan reservations@spier.co.za. Vir meer inligting, besoek www.dansendedigters.co.za
Gesprekke
Die feesprogram sluit ook ‘n reeks van vier gemodereerde Gesprekke in, wat in die Spier Herehuis aangebied word op Vrydag en Saterdagmiddag. Die reeks is getiteld Dans met die Onkenbare: Die etiek van verbeelding en die verbeelding van etiek. Bywoning is gratis, maar bespreking is noodsaaklik.
Gesprek I, op Vrydag 10 Mei om 1.30nm, word aangebied as ‘n meestersklas, en is getiteld Lost in Translation, Found in Poetry. Die deelnemers is Suid‐Afrikaanse digter, skrywer en lektor, Marlene van Niekerk, die Sloeweense digter Tomaz Salamun, erken as die leier van neoavantgarde digkuns in Sentraal Europa; en André NaffisSahely, mees bekend vir sy onlangse vertaling van die werk van Marokkaanse digter en skrywer, Abdellatif Laâbi.
Gesprek I sal gemodereer word deur vertaler en akademikus, vroeër verbonde aan die Universiteite van Kaapstad en Stellenbsoch, professor Gunther Pakendorf.
Gesprek II, Vrydag om 3.30nm, is getiteld What has Ethics got to do with it? Does poetry open a way to an awareness of being and dignity (ethics) in the processes of political and cultural transition? Deelnemers is SuidAfrikaanse digter, skrywer en joernalis Antjie Krog; Yang Lian (China), ‘n banneling sedert die Tianenmen slagting, wat as een van die mees verteenwoordigende stemme in Chinese literatuur beskou word; en David Shulman, ‘n Israeliese digter en skrywer, bekend as indoloog, vredesaktivis en mees onlangs, skrywer van Dark Hope: Working for Peace in Israel & Palestine. Die boek is ‘n dagboek oor vier jaar van politieke aktivisme in Israel en die Palestynse besettingsgebiede.
Gesprek III sal gemodereer word deur Nigeriese joernalis en Pullitzer pryswenner, Dele Olojede en Carolyn Forché, Amerikaanse digter, aktivis en vertaler van onder andere Mahmoud Darwish;
Saterdag 11 Mei
Die program duur voort op Saterdag 11 Mei om 1.30nm, met Gesprek III getiteld Is the world decaying metaphor? Does poetry shape the world, or is it but a pulse beat of reality? Deelnemers is Hans van de Waarsenburg, Hollandse digter, voormalige voorsitter van PEN en stigter van die Maastricht Internasionale Nagte van Digkuns; Joachim Sartorius, Duitse skrywer, diplomaat, regsdoktor, voormalige hoof van die GoetheInstitut en direkteur generaal van Berlyn Feeste; en Carolyn ForchéAmerikaanse digter, aktivis en vertaler van onder andere Mahmoud Darwish.
Gesprek III sal gemodereer word deur professor Kole Omotoso, Nigeriese skrywer en akademikus wat reeds sedert die negentigs in SuidAfrika woonagtig is.
Gesprek IV, om 3.30nm, is getiteld, Is there a South African Way to the Great Nowhere? Deelnemers is die SuidKoreaanse digter, Ko Un, voormalige Boeddhiste monnik en gereeld genoem as Nobelprys voorloper; SuidAfrikaanse digter en skrywer Petra Müller; en Antony Osler, Zen praktisyn en skrywer van Zen Dust, a journey home through the back roads of South Africa. Gesprek IV sal gemodereer word deur Mail & Guardian redakteur Nicholas Dawes.
Bespreek by Spier, 021 809 1100, gedurende kantoorure, Maandag tot Vrydag, of stuur ‘n epos aan reservations@spier.co.za. Vir meer inligting, besoekwww.dansendedigters.co.za
Einde.
NOTA’S
Die Pirogue Kollektief is ‘n vrywillige genootskap van individue byeengeroep deur Breyten Breytenbach, as uitvloeisel van ‘n behoefte gevoel deur die GoreeInstituut in Senegal om sy kultureelkreatiewe projekte en programme vorm te gee en te bevorder. Pirogue inisieer karavane na ander plekke en oor grense heen, om die etiese verbeelding van kreatiewe burgerskap aan te moedig in viering en vooruithelping van die Diverse. www.piroguecollective.org 
Spier ondersteun kunsprojekte wat ons SuidAfrikaanse erfenis erkenning gee, ons nalatenskap beskerm en bydra tot ons gemeenskaplike toekoms. www.spier.co.za As ‘n gesamentlike projek tussen Spier en die Pirogue Kollektief, is die Dansende Digtersfees die eerste beliggaming van ‘n vennootskap met die bedoeling om verder vorentoe soortgelyke ruimtes van skepping en verbeelding te bevorder en te fasiliteer, hetsy literêr, maatskaplik, of polities van aard.
Rig asseblief enige versoeke vir onderhoude of gesprek aan die projekbestuurder: Marí Stimiemailto:maristimie@gmail.com| +27 76 4800 743 | +27 21 422 4967

Geen opmerkingen:

Een reactie posten